{"id":785,"date":"2019-09-14T10:05:04","date_gmt":"2019-09-13T22:05:04","guid":{"rendered":"http:\/\/zirkvandenberg.com\/?p=785"},"modified":"2019-09-14T17:41:23","modified_gmt":"2019-09-14T05:41:23","slug":"tot-wedersiens-siegfried-bock","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/2019\/09\/14\/tot-wedersiens-siegfried-bock\/","title":{"rendered":"Tot wedersiens, Siegfried Bock"},"content":{"rendered":"<p>Iewers kry \u0149 boek \u0149 begin. Een van die derduisende gedagtes wat deur jou kop spoel, haak vas. Later kyk jy weer so vlugtig na hom en sit hom weer eenkant. Van tyd tot tyd stof jy hom af. Ja-nee, hier is iets. Maar wat? Sit hom maar weer weg. Krabbel dalk selfs \u0149 paar sinne neer.<\/p>\n<p>Bes moontlik het jy later \u0149 hele klompie goete van hierdie aard en dan eendag, in my geval meermale eers jare later, sien jy hoe party van hierdie brokkies by mekaar kan inpas. Eureka. Idee.<\/p>\n<p>Die idee kan die opset van \u0149 storie wees, \u0149 tema, situasie of karakter. Dit kan die beginpunt of die eindpunt wees. Dis die klas ding waarmee mense na skrywers toe kom en s\u00ea: \u201cEk het \u0149 lekker idee vir jou.\u201d Waarop die antwoord is: \u201cJa, maar wat gebeur op die ander 299 bladsye?\u201d<\/p>\n<p>Want tussen die idee en die boek val die skryf. En dit, liewe vrinne, is die eintlike ding. Die verskil tussen mense met boeke op die brein en mense met boeke op die rak.<\/p>\n<p>Elke idee laat hom nie sommer op enige manier skryf nie. Jy moet die aanslag kry wat pas. Jy vat-vat hier en vat-vat daar. Probeer die ding van verskillende kante af benader. Wie gaan die storie vertel? Die verteller is die eerste en belangrikste karakter wat die skrywer moet skep.<\/p>\n<p>Later begin die ding sy loop kry. Jy skryf \u0149 stuk en besef, nee, dis nie die begin nie. Jy moet nog iets voor die begin skryf. (Wat byvoorbeeld in <em>Ek wens, ek wens<\/em> met my gebeur het. Ek het eerste die toneel tussen Gawie en Seb geskryf, en eers baie jare later die stuk vooraf.) Jy beland op \u0149 dwaalspoor en moet tientalle bladsye weggooi en teruggaan en weer probeer. Jy kry \u0149 idee vir iets wat jou opgewonde maak, maar jy moet \u0149 aanloop of afloop daarvoor bysit. Jou aanvanklike idee groei en vervorm. Bes moontlik loop jy jou niksvermoedend in \u0149 ding vas wat wonderlike nuwe moontlikhede skep en dalk jou storie in \u0149 nuwe rigting stuur.<\/p>\n<p>(Party skrywers weet glo die hele storie as hulle begin. Ek weet gewoonlik net so \u0149 paar goed, net genoeg om te begin of watter kant toe om te mik. Dan kyk ek maar wat word. Die idees ontwikkel al skrywende.)<\/p>\n<p>Eindelik sit jy met \u0149 eerste weergawe, die hele storie van begin tot end. Ek het al vir mense ges\u00ea: \u201cAs jy klaar is, is jy halfpad.\u201d Dis darem nie heeltemal waar nie. Maar daar is weliswaar nog baie te doen. Jy gee die boek vir iemand anders om te lees. Of sit hom \u0149 lang ruk opsy dat jy later met redelike vars o\u00eb kan kyk. Jy ontdek sulke dom foute dat jy nie kan glo jy het dit sover misgekyk nie. Jy maak reg en skaaf.<\/p>\n<p>En dan is hy gereed vir die uitgewer. Daarna kom daar natuurlik nog baie werk: herskryf, reageer op die uitgewer, redakteur of proefleser se voorstelle. In my geval moet ek gewoonlik nog vertaal ook. Proewe lees. En dan is die boek daar en uit jou hande uit. Diverse lesers kry hom beet en maak net wat hulle wil.<\/p>\n<p>Daar is talle mylpale in die totstandkoming van die boek, maar vir my is die grootste die dag as hy uitgewer toe gaan.<\/p>\n<p>Gister het ek so \u0149 dag gehad. Na ses jaar en iets soos 270,000 woorde, is ek nou ten minste vir eers klaar met Siegfried Bock en sy bure daar rondom die Hochnamib polisiestasie. Die eerste boek, <em>Die vertes in<\/em>, het \u0149 jaar gelede verskyn. Ek het \u0149 kontrak vir nommer twee. Nommer drie van die trilogie is gister weggestuur.<\/p>\n<p>Natuurlik is ek en Siegfried nie heeltemal klaar met mekaar nie. Daar is nog baie gekarring tussen my en die uitgewerspan wat \u0149 jaar of twee kan draal. Of dalk kom die boek nooit uit nie. Hoe ook al, ek het my laaste stukkie nuwe gebeure op Siegfried se pad gebring. (Buiten vir \u0149 gedagte oor \u0149 ander, losstaande storie wat ek so nou en dan bekyk\u2026 Miskien, eendag.)<\/p>\n<p>Op \u0149 manier voel ek verwese. Dis die eerste keer in minstens sewe jaar wat ek nie kniediep in \u0149 skryfprojek is nie. Daar was die vertaalwerk aan <em>\u0149 Ander mens<\/em> in 2012 se koers, toe <em>Halfpad een ding<\/em>, (waarin ek terloops eergister bietjie lees en besef ek hou heel van hierdie halfvergete boek), toe <em>Die vertes in<\/em> en sy opvolger wat ek onderbreek om eers <em>Ek wens, ek wens<\/em> en \u0149 ander boek te skryf wat by die uitgewers wag. En nou die derde Hochnamib-boek.<\/p>\n<p>Hier sit ek nou, sonder my boesem-verbeeldingsvriend van die afgelope ses jaar. Sonder werk vir my vlytige vingerpunte. Wat nou gedaan?<\/p>\n<p>Miskien moet ek maar in die speelgoedlaai gaan krap en kyk of hierdie of daardie stuk dalk eendag iets kan word\u2026<\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Iewers kry \u0149 boek \u0149 begin. Een van die derduisende gedagtes wat deur jou kop spoel, haak vas. Later kyk&#8230;<\/p>\n","protected":false},"author":1,"featured_media":0,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"_mi_skip_tracking":false,"_monsterinsights_sitenote_active":false,"_monsterinsights_sitenote_note":"","_monsterinsights_sitenote_category":0},"categories":[38],"tags":[],"aioseo_notices":[],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/785"}],"collection":[{"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=785"}],"version-history":[{"count":5,"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/785\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":791,"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/785\/revisions\/791"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=785"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=785"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/zirkvandenberg.com\/index.php\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=785"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}