Afrikaans

Tot wedersiens, Siegfried Bock

Iewers kry ʼn boek ʼn begin. Een van die derduisende gedagtes wat deur jou kop spoel, haak vas. Later kyk jy weer so vlugtig na hom en sit hom weer eenkant. Van tyd tot tyd stof jy hom af. Ja-nee, hier is iets. Maar wat? Sit hom maar weer weg. Krabbel dalk selfs ʼn paar sinne neer.

Bes moontlik het jy later ʼn hele klompie goete van hierdie aard en dan eendag, in my geval meermale eers jare later, sien jy hoe party van hierdie brokkies by mekaar kan inpas. Eureka. Idee.

Die idee kan die opset van ʼn storie wees, ʼn tema, situasie of karakter. Dit kan die beginpunt of die eindpunt wees. Dis die klas ding waarmee mense na skrywers toe kom en sê: “Ek het ʼn lekker idee vir jou.” Waarop die antwoord is: “Ja, maar wat gebeur op die ander 299 bladsye?”

Want tussen die idee en die boek val die skryf. En dit, liewe vrinne, is die eintlike ding. Die verskil tussen mense met boeke op die brein en mense met boeke op die rak.

Elke idee laat hom nie sommer op enige manier skryf nie. Jy moet die aanslag kry wat pas. Jy vat-vat hier en vat-vat daar. Probeer die ding van verskillende kante af benader. Wie gaan die storie vertel? Die verteller is die eerste en belangrikste karakter wat die skrywer moet skep.

Later begin die ding sy loop kry. Jy skryf ʼn stuk en besef, nee, dis nie die begin nie. Jy moet nog iets voor die begin skryf. (Wat byvoorbeeld in Ek wens, ek wens met my gebeur het. Ek het eerste die toneel tussen Gawie en Seb geskryf, en eers baie jare later die stuk vooraf.) Jy beland op ʼn dwaalspoor en moet tientalle bladsye weggooi en teruggaan en weer probeer. Jy kry ʼn idee vir iets wat jou opgewonde maak, maar jy moet ʼn aanloop of afloop daarvoor bysit. Jou aanvanklike idee groei en vervorm. Bes moontlik loop jy jou niksvermoedend in ʼn ding vas wat wonderlike nuwe moontlikhede skep en dalk jou storie in ʼn nuwe rigting stuur.

(Party skrywers weet glo die hele storie as hulle begin. Ek weet gewoonlik net so ʼn paar goed, net genoeg om te begin of watter kant toe om te mik. Dan kyk ek maar wat word. Die idees ontwikkel al skrywende.)

Eindelik sit jy met ʼn eerste weergawe, die hele storie van begin tot end. Ek het al vir mense gesê: “As jy klaar is, is jy halfpad.” Dis darem nie heeltemal waar nie. Maar daar is weliswaar nog baie te doen. Jy gee die boek vir iemand anders om te lees. Of sit hom ʼn lang ruk opsy dat jy later met redelike vars oë kan kyk. Jy ontdek sulke dom foute dat jy nie kan glo jy het dit sover misgekyk nie. Jy maak reg en skaaf.

En dan is hy gereed vir die uitgewer. Daarna kom daar natuurlik nog baie werk: herskryf, reageer op die uitgewer, redakteur of proefleser se voorstelle. In my geval moet ek gewoonlik nog vertaal ook. Proewe lees. En dan is die boek daar en uit jou hande uit. Diverse lesers kry hom beet en maak net wat hulle wil.

Daar is talle mylpale in die totstandkoming van die boek, maar vir my is die grootste die dag as hy uitgewer toe gaan.

Gister het ek so ʼn dag gehad. Na ses jaar en iets soos 270,000 woorde, is ek nou ten minste vir eers klaar met Siegfried Bock en sy bure daar rondom die Hochnamib polisiestasie. Die eerste boek, Die vertes in, het ʼn jaar gelede verskyn. Ek het ʼn kontrak vir nommer twee. Nommer drie van die trilogie is gister weggestuur.

Natuurlik is ek en Siegfried nie heeltemal klaar met mekaar nie. Daar is nog baie gekarring tussen my en die uitgewerspan wat ʼn jaar of twee kan draal. Of dalk kom die boek nooit uit nie. Hoe ook al, ek het my laaste stukkie nuwe gebeure op Siegfried se pad gebring. (Buiten vir ʼn gedagte oor ʼn ander, losstaande storie wat ek so nou en dan bekyk… Miskien, eendag.)

Op ʼn manier voel ek verwese. Dis die eerste keer in minstens sewe jaar wat ek nie kniediep in ʼn skryfprojek is nie. Daar was die vertaalwerk aan ʼn Ander mens in 2012 se koers, toe Halfpad een ding, (waarin ek terloops eergister bietjie lees en besef ek hou heel van hierdie halfvergete boek), toe Die vertes in en sy opvolger wat ek onderbreek om eers Ek wens, ek wens en ʼn ander boek te skryf wat by die uitgewers wag. En nou die derde Hochnamib-boek.

Hier sit ek nou, sonder my boesem-verbeeldingsvriend van die afgelope ses jaar. Sonder werk vir my vlytige vingerpunte. Wat nou gedaan?

Miskien moet ek maar in die speelgoedlaai gaan krap en kyk of hierdie of daardie stuk dalk eendag iets kan word…