Afrikaans

Ek en André P. Brink

Waarmee ek geen ekwivalensie in terme van literêre meriete of intellek of wat ook al suggereer nie. ʼn Skrywervriend het jare gelede vir my gesê: “André Brink is slimmer as ek en jy saam.” Ek het geen rede om hierdie mening te bevraagteken nie.

Maar daar is tog sekere parallelle wat my tref.

Die mees opvallende is dat ons albei in dieselfde tyd ’n boek oor dieselfde historiese figuur geskryf het: Estienne Barbier. Toe my boek Wydsbeen in 1992 uitkom, was Brink blykbaar al goed op dreef met sy Inteendeel. Ek het gehoor hy het die indertydse mev. Brink gevra om my boek te bekyk, en sy het hom gerusgestel dat hy niks te vrese het nie!

Dan het ons ook albei boeke geskryf wat in Duitswes afspeel, wat nie alte algemeen is nie. (Brink s’n was Anderkant die Stilte in 2002.)

Onlangs sien ek ’n leser wat die mening uitspreek dat ek in Brink se styl probeer skryf, en syns insiens deels daarin slaag.

Laat ek hierdie veronderstelling dadelik weerlê: Ek probeer nie bewustelik in Brink se styl skryf nie. Ek sou dit ook nie onbewustelik kon doen nie, want ek ken eenvoudig nie Brink se werk nie.

Ek het Die Ambassadeur in 1979 gelees, en dis dit. In die afgelope jaar het ek wel van sy tydskrifkortverhale gelees wat gebundel is as Die Rooikop en die Redakteur, maar dit was nadat ek al my Duitswes-stories klaar geskryf het.

Maar die leser se vergelyking is dalk nie sonder gronde nie. Ek het al self gewonder of Brink dalk die ouer Afrikaanse skrywer is by wie se werk myne die meeste aansluit. Dit is omdat ek (ten regte of onregte, synde geen literatuurkenner) die idee het dat hy ook STORIES geskryf het, meer so as iemand soos sy mede-Sestiger Etienne Leroux, byvoorbeeld.

Of hierdie gedagte enige meriete het, weet ek nie.

Dalk was die naaste wat ek ooit aan Brink sal kom die keer toe ek in ons plaaslike kafee in Mowbray brood of melk gaan koop, en daar staan die groot skrywer ook met iets dergeliks onder die arm.