Afrikaans

Wat lesers nie wil hoor nie

My eerste skrywerspraatjie was ʼn teksboekvoorbeeld van hoe dit NIE gedoen moet word nie.

Dit was in die vroeë 1990s, net nadat my kort historiese roman Wydsbeen verskyn het. Frederik de Jager, toe nog by Tafelberg, het my gevra om by Tygerberg Hoërskool met die leerlinge te praat oor skryf of iets dergeliks.

Nou, met die insig wat ek mettertyd ontwikkel het, weet ek dat wat daardie kinders seker wou gehoor het, ’n romantiese vertelling was wat die mite van die muse bevestig – dat ek die een of ander hemelse openbaring gehad het en toe is die boek daar. As daar ’n Aspoestertjie-element kon bykom, soveel te beter, dat ek ’n armsalige sukkelaar was, toe skryf ek hierdie boek en kyk hoe suksesvol is ek vandag! Of dan ten minste iets amusants.

Maar het ek met iets van die aard uitgekom?

Nee. Ek het gepraat oor iets wat my interesseer, eerder as die gehoor. Waarin ek belang stel is skryf. Die proses is waaroor ek wil praat.

Dit was nog voor woordverwerkers, en ek kon met bietjie forensiese navorsing ’n hele rits weergawes van die boek se eerste paragraaf opdiep. Wat ek toe staan en doen, is om vir die bloedjies die een weergawe na die ander van my eerste paragraaf te wys en te verduidelik waarom ek besluit het om hierdie sin uit te haal, of daardie frase te skuif.

(Terloops, anderdag lees ek iemand sê dat Jan van Tonder soveel moeite met sy skryfwerk doen, hy het een boek se eerste sin sewe of twaalf keer oorgeskryf. En toe dog ek: Doen almal dit dan nie?)

Vir interessantheid, Wydsbeen se eerste paragraaf se laaste weergawe lees so:

Wydsbeen op die nok van ’n kerkdak in Zeeland. Die man het sy gereedskap neergegooi. Hy voel in elk geval magteloos. Die verlede druk swaar op sy skouers, waar sy vlerke sou gewees het as hy ’n voël of ’n engel was soos dié wat op hom neerkyk. Daar, dáár sit hy, geboë soos ’n verslane ridder op sy strydros.

Kyk, hier babbel ek al weer oor hierdie stukkie prosa!

Ek hoop ek het sedertdien ’n beter skrywer geword en meen ek sou dalk meer met die opset en vertelling van hierdie storie kon doen, maar moet bely die prosa klink nog vir my na die soort ding wat ek sou skryf.

En nog ’n bekentenis: Ek kon dertig jaar nadat ek dit geskryf het, die begin van hierdie paragraaf tik sonder om in die boek te moet kyk.

Dis omdat ek die stuk soveel keer moes oorlees. Lesers lees ’n boek een keer, miskien twee, by uitsondering drie. Ek het nou getel: Vandat my jongste manuskrip klaargemaak is, het ek hom maklik nog tien keer van voor tot agter gelees. Dis nou buiten om na spesifieke tonele of passasies in afsondering te kyk. En natuurlik, terwyl jy skryf, lees jy elke sin oor en oor.

Daar lê vir my nog een lees van hierdie een voor, as die bladproewe kom. Dan hoop ek om hom neer te lê soos ’n sweterige lieflingshemp na ’n lang dag – met dankbaarheid en waardering, maar ook ’n tikkie weersin.

Die harde werk is deel van die realiteit van skryf. Maar wie buiten ’n skrywer wil dit nou hoor?

Afrikaans

Na die maan met kuns

Eendag het ek ‘n bottel pickles present gekry by ‘n digter wat in die Chinese burgeroorlog kanker gekry het. (Dis die waarheid dié en het met verbeelding niks uit te waaie nie.)
Dit was in die dae toe jong witmans Suid-Afrika nog teen die ANC moes beveilig. Ek het my destydse vrou haarkapper toe gevat. Die haarkapper was in Groenpunt en ek was in uniform. Terwyl my vrou in die stoel was, het ek in die straat gestaan. Ek gee nie om om te wag nie. Dis een van my goeie eienskappe. Nog een is dat ek nie haatdraend is nie. Ek was ontuis in daardie uniform.
“Vrou by die haarkapper?” vra iemand. Dis ‘n ou man wat my oor ‘n tuinhekkie staan en bekyk. Ek knik. “In watter eenheid is jy?”
“Ek is nie eintlik ‘n soldaat nie.”
“Nonsens. Jy’t ‘n uniform aan. Dan’s jy ‘n soldaat, dit maak nie saak wat jy doen nie.”
Ek antwoord nie. Ek gaan nie die fynere punte van my self-verontskuldiging met ‘n ou omie bespreek nie.
“Ek was in die Chinese burgeroorlog.” Hy wys na ‘n groot seer op sy lip. “Dis waar ek die kanker gekry het, van die son in die Gobi.” Ek kyk hom aan. So wragtig? “Almal is so bang vir die Russe, maar ek sê jou die Chinese is gevaarliker. Daar is baie van hulle en hulle weet hoe om ‘n mortier te gebruik.”
My vrou se hare beter nou klaar wees.
Hy sien seker hoe ek hoek toe kyk. “My seun is die haarkapper. Ek en my vrou bly hier bo die salon. Dis eintlik baie lekker. Ons skryf musicals.”
“Musicals?”
“Ja-a. Ons het al ‘n hele klomp gedoen. Ek skryf die woorde. Ek is eintlik ‘n digter. My vrou skryf die musiek. Dan stuur ons dit vir Kruik. Maar hulle wou nog nie een opgevoer het nie …” Hy voel aan die roof op sy lip. “Eenkeer het ek amper ‘n gedig maan toe gestuur. Kom in, dit sal nie lank wees nie, dan wys ek jou.”
Ek protesteer, maar goeie maniere is nie genoeg om hom van sy storie af te kry nie. Uiteinde is ek word aan sy vrou voorgestel, netjiese vroutjie met haar hare in ‘n rol agter haar kop. Die klavier staan gereed met bladmusiek oopgevou. Terwyl hy soek na die gedig wat amper maan toe gegaan het, vertel hulle my van hul musicals.
“Ons werk nou juis aan ‘n nuwe een.”
“Dis regtig ons beste, die keer.”
“Dit gaan wonderlik wees.”
Uit ‘n kis kom die man met ‘n brief te voorskyn. “Kyk hier is ‘n brief wat ek by Nasa gekry het.” Dis op blou papier met Nasa se seël bo-aan. ‘n Beleefde relaas oor hoe hulle soveel versoeke kry om goed maan toe te vat dat hulle ongelukkig nie aan almal kan voldoen nie. Maar die ruimtevaarders het glo die gedig gelees en baie daarvan gehou. “Elkeen het sy gunsteling-stukkie vir my onderstreep, kyk net,” wys hy my. Daar staan hul name – Edwin Aldrin, Neil Armstrong en Frank Borman. “Hulle sou dit saamgevat het as hulle kon.”
“Ek is seker.”
“Jy wil nie dalk van my pickles saamvat nie, netnou as jy gaan?”
Ek het niemand om namens my nee-dankie-briewe op blou briefhoofde te skryf nie.
Eendag lank, lank gelede, het ek ‘n bottel pickles present gekry by ‘n digter wat in die Chinese burgeroorlog kanker gekry het. Sy naam is Paul Devere. Jy kan hom maar gaan opsoek.
Afrikaans

Ek en André P. Brink

Waarmee ek geen ekwivalensie in terme van literêre meriete of intellek of wat ook al suggereer nie. ʼn Skrywervriend het jare gelede vir my gesê: “André Brink is slimmer as ek en jy saam.” Ek het geen rede om hierdie mening te bevraagteken nie.

Maar daar is tog sekere parallelle wat my tref.

Die mees opvallende is dat ons albei in dieselfde tyd ’n boek oor dieselfde historiese figuur geskryf het: Estienne Barbier. Toe my boek Wydsbeen in 1992 uitkom, was Brink blykbaar al goed op dreef met sy Inteendeel. Ek het gehoor hy het die indertydse mev. Brink gevra om my boek te bekyk, en sy het hom gerusgestel dat hy niks te vrese het nie!

Dan het ons ook albei boeke geskryf wat in Duitswes afspeel, wat nie alte algemeen is nie. (Brink s’n was Anderkant die Stilte in 2002.)

Onlangs sien ek ’n leser wat die mening uitspreek dat ek in Brink se styl probeer skryf, en syns insiens deels daarin slaag.

Laat ek hierdie veronderstelling dadelik weerlê: Ek probeer nie bewustelik in Brink se styl skryf nie. Ek sou dit ook nie onbewustelik kon doen nie, want ek ken eenvoudig nie Brink se werk nie.

Ek het Die Ambassadeur in 1979 gelees, en dis dit. In die afgelope jaar het ek wel van sy tydskrifkortverhale gelees wat gebundel is as Die Rooikop en die Redakteur, maar dit was nadat ek al my Duitswes-stories klaar geskryf het.

Maar die leser se vergelyking is dalk nie sonder gronde nie. Ek het al self gewonder of Brink dalk die ouer Afrikaanse skrywer is by wie se werk myne die meeste aansluit. Dit is omdat ek (ten regte of onregte, synde geen literatuurkenner) die idee het dat hy ook STORIES geskryf het, meer so as iemand soos sy mede-Sestiger Etienne Leroux, byvoorbeeld.

Of hierdie gedagte enige meriete het, weet ek nie.

Dalk was die naaste wat ek ooit aan Brink sal kom die keer toe ek in ons plaaslike kafee in Mowbray brood of melk gaan koop, en daar staan die groot skrywer ook met iets dergeliks onder die arm.