Een van die heerlikste verbeeldingsvlugte wat ek in jare gelees het. – Kerneels Breytenbach
Ek het lanklaas iets in Afrikaans gelees wat so lekker van bladsy tot bladsy spring. – Fanie Olivier, Rapport, 9 April 2023
Dis ’n verhaal vol verbeelding, geskryf in die heerlike Afrikaans wat eie is aan Zirk van den Berg. […] een van die prettigste boeke wat onlangs in Afrikaans verskyn het. – Analize Viljoen, Taalgenoot, 21 Junie 2023
Moordenaars. Afpersers. Nazi’s in die Namib.
En dis by verre nie die ergste waarmee die diamantsmokkelaar Barra Nel hier laat in 1942 te kampe het nie. Nie as die Nazi-navorsers se eksperimente skeefloop en liederlike gedrogte in die woestyn ontketen nie. Dis gevaar net waar jy kyk. En hoe gaan hy vir Hedda red, die Duitse wetenskaplike wat smeulende gevoelens in hom ontlok?
Geheim van die gruwelsand is ʼn barre konkoksie van lekkerlees-genres: skop-skiet-en-wonder, wetenskapfiksie, geskiedkundig en griller, met ’n sterk streep romanse.