Die onsigbare pou

Kwela, 2022

‘n Briljante Bellville-bromance met baie bagasie – Deon Maas

In die 1980s verower die sanger bekend as Ober die Afrikaanse musiektoneel . . .

Hy leef daadkragtig, vra nie verskoning vir wat hy doen of wie hy is nie. Hy ontbloot sy diepste gedagtes, sy teerste gevoelens, deins nie terug vir kritiek nie. Want hy weet hy is nie die enigste wat hierdie dinge dink of voel nie; hy is die een wat die dinge wys wat ander mense wegsteek. Hy raak ons kampvegter, ons ideale self, ons gewete. En dan raak hy vergete.

Dekades later belig sy vriend en agent, Sybie de Waal, Ober se lewensloop in ʼn plakboek van woorde – van hulle skooldae af, deur die jare toe Obermania die publiek beetgepak het, tot die terreurdaad toe alles op ’n einde kom.

Die onsigbare pou is ’n verhaal van ambisie en kreatiwiteit, roem en anonimiteit, vriendskap en verraad.