Biografie

Foto geneem deur my vriend die filmkameraman Marc Degenaar, in die huis van my vriend die skrywer, André le Roux. 2013.

Ek skryf boeke in twee tale en verskillende genres. Nou en dan word my werk vir ‘n prys benoem, en wen partykeer.

My debuut was ‘n bundel kort-kortverhale in Afrikaans – Ekstra Dun vir Meer Gevoel. Stories daaruit is in verskeie versamelbundels opgeneem, Daarna het ek die kort historiese roman Wydsbeen geskryf, wat die kortlys vir beide die Rapportprys en die CNA-Debuutprys gehaal het. Ek het in 1998 van Suid-Afrika na Nieu-Seeland getrek en begin om in Engels te skryf.

Dit was die tweede keer dat ek van lande verwissel het – ek is in Walvisbaai, Namibië, gebore, en het van daar af na Bellville, Suid-Afrika, getrek net voordat ek met skool begin het. Ek het aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer en het later in Mowbray gewoon, nie ver van die universiteit af nie. Ek woon tans in Auckland, Nieu-Seeland. Daar is ‘n ellelange Wikipediablad met biografiese besonderhede en so meer en ook ‘n breedvoerige oorsig van my skryfloopbaan op Litnet.

Random House Nieu-Seeland het my misdaadverhaal Nobody Dies in 2004 gepubliseer. Die NZ Herald het die boek aangewys as een van die vyf beste spanningsverhale van die jaar – die enigste plaaslike boek op die lys. Die tydskrif NZ Listener se resensie het verskyn onder die opskrif “Is Zirk van den Berg the best thriller writer in NZ?”

My Afrikaanse vertaling van hierdie boek, ‘n Ander Mens, is in 2014 met die eerste KykNet/Rapport-Prys vir Film bekroon. Die fliek wat deur die boek geïnspireer is,  het in 2019 verskyn. Die boek is intussen heruitgegee.

In 2014, het Penguin Suid-Afrika my roman oor ‘n Nieu-Seelandse soldaat in die Boereoorlog tegelyk in Engels en Afrikaans uitgegee, as Halfpad Een Ding en Half of One Thing.

My historiese roman Die Vertes In  het in September 2018 verskyn en die Engelse weergawe, Parts Unknown, kort daarna. Sy opvolger, Tweegevreet, het in Junie 2020 verskyn en die finale sluitstuk, Een of ander held, in 2021.

My novelle Ek Wens, Ek Wens het in Februarie 2019 die lig gesien. Die boek is in 2020 met die W.A. Hofmeyrprys en die kykNET-Rapportprys vir fiksie bekroon. Hy het ook die kykNET-Rapportprys vir beste verfilmbare boek gewen.

Die Engelse weergawe het in Oktober 2020 in Nieu-Seeland verskyn en is benoem vir die NZ Booklovers Award for Fiction.

My kort roman Die onsigbare pou het in 2022 verskyn.

Ek doen ook heelwat vertaalwerk uit Engels na Afrikaans. Buiten my eie Nobody Dies, Half of One Thing, Parts Unknown en I Wish, I Wish ek sedert 2014 drie romans van Wilbur Smith in Afrikaans vertaal (as Donderslag, Wildernis en Goudmyn), twee van Philip Kerr (Doodsbleek en Doodslied vir Duitsland), asook AB de Villiers se outobiografie, AB. Ek was in 2016 een van drie finaliste vir die SALA (South African Literary Awards) se vertaalprys vir die vertaling van Halfpad Een Ding.