Een of ander held

Een of ander heldDaar’s oomblikke van soveel skoonheid in dié roman – waar ’n enkele gebaar berusting bring, en ‘n man leer wat dit kos om ‘n góéie mens te wees. – Elmari Rautenbach

Zirk van den Berg skryf ‘n avontuurverhaal soos van ouds maar met hedendaagse flair. Hy trek jou suutjies in en jaag jou hartklop hemelhoog van spanning.  – Frederik de Jager

Met naelbyt oomblikke kan die afloop van Van den Berg se verhaal as monumentaal beskryf word. – Francois Bekker, Die Burger, 22 Junie 2021

Een of ander held is ʼn uiters bevredigende, fassinerende slothoofstuk vir ʼn drieluik wat bestem is om die etiket ‘meesterwerk’ te kry. – Jonathan Amid, Rapport, 21 Junie 2021

Daar is helde en hélde. Mense met die moed van hulle oortuiging. Mense met twyfel. Dié met gewere, dié met regulasies en dié met ideale.

Voor ’n groot moordverhoor in November 1905 bestempel ’n Windhoekse koerant die polisieman Siegfried Bock as ’n nuwe soort held. Maar die beskuldigde se advokaat stel Siegfried in ’n heel ander lig, skep agterdog wat sy goeie naam en toekoms bedreig.

Boonop is sy voormalige bevelvoerder, oberleutnant Berghammer, en die Namakryger Jager Orlam albei daarop uit om Siegfried te laat boet – die een oor sy soldate se dood, die ander oor ’n opstandeling s’n. En dan is daar die burokraat Stauffacher met sy skreiende planne vir Siegfried en die ganse Duits-Suidwes-Afrika.

Die strop trek ál nouer om Siegfried se nek. Hy sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink . . .

Een of ander held voer Zirk van den Berg se Hochnamib-trilogie tot ’n aangrypende einde.