Ek wens, ek wens

Ek wens, ek wens (Kwela, 2019)

‘n sprokie wat met meesterlike hale onmiddellik ‘n lewe oproep – Jean Meiring, Rapport, 24 Februarie 2019

 

Ek wens ek wens bewys dat ‘n novelle selfs meer trefkrag as ‘n ellelange roman kan hê. Met ekonomiese woordgebruik, uitsonderlike goeie karakterisering en knap situasieskepping oorrompel die skrywer die leser met dié aandoenlike verhaal oor hoe betowerend die lewe kan wees.  – Francois Bekker, Die Burger, 11 Maart 2019

As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. ’n Mens het jou werk en jy doen dit, dit help nie om vir ander goed te wens nie .

Maar af en toe wens Seb tóg vir die een of ander ingryping om hom los te ruk uit sy saai bestaan – nie net by die werk nie, maar ook by die huis waar hy, sy vrou en tienerkinders by mekaar verby leef.

Eendag, toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb wel rede om in wense te glo. En kom voor ʼn dilemma te staan: Waarvoor wens jy as jy één wens het wat waar gaan word? Veral as dinge lelik begin skeefloop…

Ek loop al van minstens 2010 af met hierdie storie in my kop rond, en het toe al die kerntoneel geskryf waar Seb vir Gawie ontmoet. In 2017 het ek gaan sit en hom uiteindelik ordentlik neergeskryf. Sommer ‘n ligte snuistery, maar tog ‘n lekker storie, dink ek.