Ek wens, ek wens

Ek wens, ek wens (Kwela, 2019)

Soms is ’n roman klein en dun en stil, maar dit dawer soos ’n spreuk of blink soos ’n edelsteen. Hierdie is so ’n roman. Dis asof dit nog altyd daar was. Daar is niks geprakseer of bewimpel daaraan nie: dis amper vanselfsprekend. Daar is geen poging tot mooiskryf of opstoppery nie, die taal is gestroop, net die nodige inkleding word gedoen, soos met ’n novelle, en wat die leser bybly is die karakters. Daar is te min van hierdie soort boeke in Afrikaans… – Deborah Steinmair, Skrop.co.za

‘n Klein boek met ‘n impak soos ‘n donderhou. – Joan Hambidge, Woorde wat Weeg, 21 Junie 2020

‘n sprokie wat met meesterlike hale onmiddellik ‘n lewe oproep – Jean Meiring, Rapport, 24 Februarie 2019

Ek wens ek wens bewys dat ‘n novelle selfs meer trefkrag as ‘n ellelange roman kan hê. Met ekonomiese woordgebruik, uitsonderlike goeie karakterisering en knap situasieskepping oorrompel die skrywer die leser met dié aandoenlike verhaal oor hoe betowerend die lewe kan wees.  – Francois Bekker, Die Burger, 11 Maart 2019

Betower soos ‘n kind deur ‘n sprokie, kon ek die boek nie neersit nie. […] Wat Ek wens, ek wens egter so buitengewoon maak, is dat die bonatuurlike uiteindelik nie ‘n deurslaggewende rol speel nie. […] Hierin lê Van den Berg se meesterskap en die betowering van die boek. – Willie Burger, Vrouekeur, 7 Junie 2019

Van den Berg se roman is ’n genot om te lees, is met tye verstommend snaaks. – Reinhardt Fourie, Litnet, 4 Mei 2020

Wenner van die:

  • 2020 W.A. Hofmeyrprys vir literatuur
  • 2020 kykNET-Rapportprys vir fiksie
  • 2020 kykNET-Rapportprys vir film.

(Sien commendatios laer op die blad.)

  • Kortlys vir die 2022 Hertzogprys vir Prosa

As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. ’n Mens het jou werk en jy doen dit, dit help nie om vir ander goed te wens nie .

Maar af en toe wens Seb tóg vir die een of ander ingryping om hom los te ruk uit sy saai bestaan – nie net by die werk nie, maar ook by die huis waar hy, sy vrou en tienerkinders by mekaar verby leef.

Eendag, toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb wel rede om in wense te glo. En kom voor ʼn dilemma te staan: Waarvoor wens jy as jy één wens het wat waar gaan word? Veral as dinge lelik begin skeefloop…

Ek loop al van minstens 2010 af met hierdie storie in my kop rond, en het toe al die kerntoneel geskryf waar Seb vir Gawie ontmoet. In 2017 het ek gaan sit en hom uiteindelik ordentlik neergeskryf.

Commendatio vir die 2020 W.A. Hofmeyrprys:

Daar is boeke wat ’n mens in ’n ommesientjie kafdraf, maar wat jou jare lank bybly. The Old Man and the Sea deur Ernest Hemingway, The Great Gatsby deur F Scott Fitzgerald, Die klein prinsie deur Antoine de Saint Exupéry en Things Fall Apart deur Chinua Achebe is enkele voorbeelde van bondige romans wat lang skaduwees gooi. Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg is ook so ’n groot, klein boek. Dit sorg vir ’n oorrompelende leeservaring, maar dit kom die leser se wêreld binne sonder ’n gedawer of gedruis. Daar is geen poging tot grootdoenery en geen truuks of fieterjasies nie. Dit gee eerder voor om doodgewoon te wees – soos die hoofkarakter Sebastian Walters (Seb), ’n begrafnisondernemer wat sy voorspelbare lewe gedwee leef. Só gelate met sy lot is Seb dat hy glo dit help nie om te wens of te droom nie. Hy dink hy leef nugter, maar eintlik is hy hoopverlore. Eers wanneer hy vreemd bekoor word deur sy ontmoeting met ’n sterwende kind genaamd Gawie (oftewel Gabriël), begin Seb vars dink oor sy hartbegeertes. Ook die leser word tot nadenke gestem. Wat wil ons die heel graagste hê? Ek wens, ek wens is snaaks, slim, teer en verrassend. Dit is, in elke sin van die woord, ’n betowerende teks.

Commendatio vir die 2020 kykNET-Rapportprys vir fiksie:

Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens het die tydloosheid en betowering van ’n moderne sprokie. Enersyds is dit herkenbaar eietyds; andersyds byna argetipies in die verkenning van oervrese en -begeertes.

Seb Walters, ’n middeljarige lykbesorger, se lewe verloop met dodelike reëlmaat: sy werk is voorspelbaar, sy huwelik saai en sy verhouding met sy tienerkinders stram. Al wens hy soms hy kan “die grond van sy bleek wortels afskud” en soos ’n “distel op die wind” sweef, voel hy meestal soos ’n graf-engel met vlerke van klip. Op ’n dag verander sy lewe handomkeer wanneer ’n agtjarige seun saam met sy ma by White Lily Funerals instap, omdat die terminaal siek kind presies wil weet wat met hom gaan gebeur wanneer hy sterf. Terwyl Seb vir Gawie (Gabriël) toelaat om in een van die doodskiste te lê, vertel die seun hom van die sprokie oor ’n man wat drie wense kon wens. Dié verhaal, en die buitengewone ontmoeting waarvan dit deel vorm, maak ’n onuitwisbare indruk op Seb en dwing hom om met nuwe oë na sy lewe buite die lykshuis te kyk.

Soos die Rubik-kubus op die voorblad, pas alles in dié roman naatloos inmekaar. Die fyn afgewerkte eindproduk spreek van deeglike navorsing, slim beplanning en taalvernuf. Uiteindelik word gróót vrae binne die omlysting van ’n beskeie lewe gevra, terwyl die weersinwekkende op verrassende wyse lêplek langs die wonderbaarlike kry. Sonder ’n sweem sentimentaliteit vuur Van den Berg se vertelling die verbeelding aan en nooi dit die leser uit om, saam met Seb, nuwe bestaansmoontlikhede te oorweeg.

In taalgebruik vergroot Ek wens, ek wens die reikwydte van Afrikaans deurdat dit die amper vergete betekenisse van woorde soos onskuld, eerlikheid, welwillendheid, egtheid en hoop herontgin. In dié opsig sluit dit aan by die sogenaamde “nuwe opregtheid” waarvan daar wêreldwyd sprake is en waarin daar op doelbewuste, maar ingeligte, wyse wegbeweeg word van postmoderne afstandelikheid, ironie en sinisme.

Ek wens, ek wens is ’n boek wat die leser oplaas losruk “van hierdie aardgebonde verdomde lot” en die hoop laat vlam dat wense tóg waar kan word. Dit is die perfekte teenmiddel teen die Weltschmerz wat tans ervaar word en ’n waardige wenner van die kykNET-Rapport-boekprys vir 2020.

– Thys Human, Noordwes-Universiteit

Commendatio vir die 2020 kykNET-Rapportprys vir film:

In ’n era van die “quick fix” en Twitter-nuus, Insta-influencers en groot gebare staan ’n onpretensieuse storie uit in al sy gewoonheid.

Seb Walters is ’n begrafnisondernemer by die afgeleefde White Lily Funerals. Sy lewe is eentonig en roetine-gerig – grys, in alle opsigte. Tuis word sy teenwoordigheid slegs geduld deur sy vrou en twee tienerkinders; by die werk vind hy tog ’n mate van vrede in die prosesse van lykbesorging wat hy nougeset en met respek uitvoer. Vir meer durf hy nie wens nie.

Of mag hy?

Op ’n dag is daar ’n ingryping wanneer ’n sterwende seuntjie hom by Seb aanmeld met ’n ongewone versoek: Hy wil solank “voorberei” vir sy komende dood deur in ’n kis te lê.

Seb se lewe verander onherroeplik wanneer hy die skraal kind in die doodskis met sy wit satynvoering intel. Die seuntjie met die engelnaam, Gawie, vertel hom van die sprokie van die drie wense en sonder dat Seb dit besef, kantel sy eie saai bestaan op hierdie oomblik in dié van ’n sprokie …

Rolprentmakers kan kwalik vir beter storiemateriaal vra. Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens is geskryf asof dit van meet af op die visuele vertelmedium gemik was.

Afgeteken teen loodgrys reënwolke, sy skoene met modder bespat, staan Seb teen ’n klipengel aangeleun en speel met ’n Rubik-kubus – ’n flits kleur teen die grys. ’n Ent van hom drom swart sambrele saam om ’n oop graf – die nuwe generasie tree aan vir die dood – wanneer ’n enkele geel sambreel oopvou en ’n smiley face ontplooi …

Net soos Seb die dooies se organe sorgvuldig terugpak, die liggame met vloeistof vul en die gelaatskleur vir oulaas met ’n bietjie grimering tooi, net so sorgvuldig pak Seb sy eie herstelproses aan nadat hy met ’n skok besef sy eerste twee lukrake wense het waar geword.

Vir die Afrikaanse rolprentganger is die alledaagse werksaamhede in ’n lykshuis verrassende en ongewone kykstof – ’n visuele simbool waarmee hulle maklik sal kan identifiseer. Net so gemaklik en boeiend is die dialoog, wat soomloos tot draaiboek verwerk kan word. Hoewel die tema hom ophou met die donker dinge van die lewe en die storie by tye hartseer is, is dit ook hoopvol en soms selfs verrassend snaaks, wat die kyker geboei hou en lok om emosioneel betrokke te raak by Seb, die underdog, se reis.

Vir filmmakers skep die twee hoofkarakters en drie wense boonop die moontlikheid om binne ’n moderne sprokiegenre met ’n gehoor te kommunikeer – een wat juis nié deur toweragtige elemente, donderslae of bonatuurlike gebeure gekenmerk word nie, maar eerder deur ’n gewone man in ’n klein bestaan wat voor ’n kernbesluit te staan kom: Waarvoor wens jy as jy net één wens het?

Eers dan word ’n reeks gebeure in werking gestel wat, soos die kleure van die Rubik-kubus, een vir een in plek klik om uiteindelik finaal tot rus te kom by verwondering. En die geleentheid om in ’n wêreld vuisvoos ná ’n pandemie ’n film te maak met die boodskap dat ons regtig in ’n gelukkige einde met meer genade kan glo.

Zirk van den Berg dra Ek wens, ek wens aan Ryk Hattingh op. Ek wens hy was nog met ons. Hy sou hierdie roman se eenvoud besing het.

– Gerrit Schoonhoven, regisseur

 

Lees die resensie in Vrouekeur.

Lees die resensie op Litnet.

Lees die onderhoud met Naomi Meyer op Litnet.